“I Saw a Nightmare…”
Doing Violence to Memory: The Soweto Uprising, June 16, 1976
by Helena Pohlandt-McCormick
<< Go Back

Police Statement: Johannes Augustinus Kleingeld

Lieutenant Colonel, South African Police, Stasiebevelvoerder Orlando, Soweto

SAB K345, volume 85, part 4—South African Police, Memoranda and Evidence Submitted to Cillié Commission: Soweto
29 June 1976 (The document was certified 6 July 1976.)29 June 1976 (The document was certified 6 July 1976.)

VERKLAAR,

Ek is Nr. 23020W Luitenant Kolonel in die SAP en dien as Stasiebevelvoerder te Orlando in die afdeling Soweto.

Op 17.5.76 het dit onder my aandag gekom dat die skoolkinders by die PHEFENI JUNIOR SEKONDÊRE SKOOL weier om klasse by te woon weens die feit dat sekere vakke in Afrikaans doseer word. Mnr. F.S. Nhlapo die vise-hoof is dieselfde dag deur my gespreek. Hy het my ook meegedeel dat mnr. De Beer, inspekteur van Bantoeonderwys met H.K. Krugersdorp reeds kennis dra. Behalwe vir die bogemelde feit was daar geen onrus by die skool nie. Hierdie aangleentheid was aan my Hoofkantoor en die Veiligheidstak oorgedra.

As gevolg van 'n berig in die nuusblad "The World" gedateer 25.5.76 dat die staking van skoliere uitgebrei het na 'n verdere sewe skole, het ek verdere ondersoek insgestel. Ek het vasgestel dat gedurende die nag van 25.5.76, 27 vensterruite stukkend gegooi is bydie BELLE HIGHER PRIMARY SKOOL te Orlando-Wes. Die aangeleentheid is ondersoek vide Orlando ROM 489.5.76. Die vermoede was dat stakende skoolkinders hiervoor verantwoordelik was. Dit was aan my Hoofkantoor en die Veiligheidstak gerapporteer. As 'n voorkomingsmaatreël is 'n aantal wagte vir 'n paar nagte by bogenoemde skool gepos.

'n Verdere skrywe was gerig aan my Hoofkantoor op 3.6.76. Die klagte was by Belle en Thula Sizwe skole waar die kinders weer op 2.6.76 klasse begin bywoon het, behalwe vir sewe kinders by die Belle Higher Primary Skool, wat geweier het om klasse by te woon en die ander skoliere geintimideer en gedreig het. Patrollies was ingestel om orde te handhaaf.

Op 8.6.76 het die skoolhoof, mnr. Lyman Mnguni van die Thula Sizwe Hoer Primêre Skool om polisiehulp gevra, omdat van die skoliere wat geweier het om skool by te woon, by die skool opgedaag het en ander skoliere geintimideer en belet het om klasse by te woon. Die skool is besoek deur Lt. Brand en vyftien Bantoeseuns is na Orlando polisiestasie geneem vir ondervraging. Hierdie aangeleentheid was ook aan die Hoofkantoor en Veiligheidstak gerapporteer.

Op 7.6.76 het mnr. Mbuli van Belle Hoër Primêre Skool weer om hulp gevra omdat die stakende kinders weer van die vensterruite by die skool stukkend gegooi het, en die kinders wat klasse wou bywoon, verhinder het. Hierdie saak is ondersoek vide Orlando ROM 126.6.76. Patrollies is ingestel om verdere beskadiging van die skool te voorkom.

Geen opdragte vanaf Hoofkantoor was ontvang vir spesiale optredes nie.

Op 15.6.76 om ongeveer 16h00 het Ban/Lt. Saudi van Orlando aan my 'n rapport gemaak dat die skoolkinders beplan om 'n vergadering by een van die Hoër Skole in Orlando te hou. Dieselfde aand het Ban/Sers. Masopa van Orlando my telefonies by my woning dieselfde gerapporteer.

Op 16.6.76 om 07h45 het ek opdrag gegee dat die lede van die Navrae- en Kantoorpersoneel moes bystaan. Om ongeveer 08h30 dieselfde oggend het ek 3 patrollies na die drie hoërskole te Orlando uitgestuur, met die doel om ondersoek in te stel of daar wel vergadering gehou word.

Twee van die patrollies vanaf die Orlando-Wes Hoërskool en Diepkloof Hoërskool het teruggekeer en rapporteer dat alles stil is. Sers. Woest, die derde patrollie het rapporteer dat honderde kinders in optog is vanaf die noordekant aan die westekant van die treinspoor in die rigting van Orlando-Wes Hoërskool. Ek het hierop, vergesel van Sers. Woest en Sers. Botha, per motor na die rigting van die optog beweeg om ondersoek in te stel. Dit het my voorgekom asof die optog uit skoolkinders bestaan. Hulle het in 'n straat tussen huise in 'n westelike rigting beweeg. Ons het stadig agter die optog beweeg om vas te stel wat die doel van die optog was en indien moontlik met hulle te praat. Toe ons egter reg teenoor die straat waarin hulle beweeg kom, het hulle onmiddellik met klippe in ons rigting begin gooi en in ons rigting beweeg. Ons het omgedraai en na Orlandopolisiestasie teruggekeer. Op hierdie stadium was dit vir my duidelik dat hulle aggressief was. Om te poog om met hulle te praat sou nie moontlik wees nei. As gevolg van my waarneming dat die kinders, wat opgesweep voorgekom het, en hul aggressiewe houding het ek gemeen en afgelei dat die optog daarop uit was om eiendom te beskadig en selfs lewens in gevaar te stel. My terugkeer was daarop gemik om die nodige versterkings te verkry asook middele wat gebruik kon word om 'n skare uiteen te dryf.

Die groep het bestaan uit 6 blanke Uniform-lede en twee blanke lede van die speurtak en ongeveer 40 nie-blanke uniform lede. Lede was gewapen met rewolwers of pistole. Daar was 3 Stengewere en 'n hoeveelheid traanrook-granate. Van die Bantoe-lede was uitgereik met onlus-knuppels. My opdrag was dat bantoe-lede met rewolwers uitgereik word sovêr voldoende beskikbaar. Lt. Brand het die drie voertuie van die honde-eenheid vergesel.

Ek het met een groep langs die Orlando Stadion onderkant die treinspoor in 'n westelike rigting beweeg na die plek waar die kinders my die eerste keer met klippe aangeval het. Ek het gevind dat die kinders na Belle Hoër Primêre Skool te Orlando-Wes beweeg het. Daar was 'n groep van etlike honderde wat daar saamgedrom het. Ons het stilgehou ongeveer 75 tot 100 meter in 'n noord-oostelike rigting vanaf die skare waar daar toe ook 'n samedromming plaasgevind het voor Uncle Tom's Hall. Op daardie stadium het ek reeds oor die radio gehoor da 'n ander optog vanaf Jabulani in die rigting van Orlando-Wes beweeg. Dit was nou vir my duidelik dat die toestand baie plofbaar is. Ek het my voertuig verlaat met die doel om die kinders, indien enigsins moontlik te kalmeer en moontlik te praat. 'n Paar klippe was in my rigting geslinger. Dit was vir my nou meer duidelik dat die kinders opgesweep en agressief was. Ek het germerk dat 'n aantal laërskool kinders en onderwysers by die XHOSA-OOS Skoolraad kompleks staan. Ek het een van die onderwysers nader geroep en versoek dat die kleintjies in die gebou geneem word om beserings te voorkom.

Met die doel om die skare uitmekaar te probeer kry en insidente te vermy het ek twee rookgranate voor die kinders gegooi. Die skare het daarop terug beweeg oour Khumalostraat, die hoofstraat in die rigting van Orlando-wes Hoërskool.

Op hierdie stadium het Lt. Brand, Sers. Hattingh met die hondeeenheid by ons aangesluit.

Deurdat die kinders nou tussen die huise deur beweeg het, het ek Sers. Hattingh opdrag gegee om, om te beweeg en vanaf die westekant te nader en waar te neem in watter rigting of waarheen die skare beweeg. Ons was in radio verbinding.

Enkele oomblikke na hulle by my weg is het ek besluit om by hulle aan te sluit, sodat ons in 'n eenheid saam kan opereer. Ek het in dieselfde rigting beweeg en by hulle aangesluit in Vilakazistraat ongeveer 100 meter van die skare af.

Ongeveer 1000 tot 2000 kinders was saamgetrek voor die skool. Ek het gemerk dat daar nou een Bantoeman voor die skare stelling ingeneem het. Hy het 'n kierie in sy linkerhand gehad en, wat vir my na 'n halwe baksteen gelyk het, in sy regterhand. Hy het rond gedans en gespring en die skare opgesweep. Dit het vir my nou baie duidelik geword, as gevolg van die geskreeu veral, dat die toestand baie plofbaar is. Ek het die voertuig verlaat en voor my voertuig stelling ingeneem. Die skare was al die tyd besig om in ons rigting te beweeg. Die leier het al dansende voor die skare gebly. Ek het op hierdie stadium ook waargeneem dat die skare nie meer net uit skoolkinders bestaan nie, maar dat daar verskeie volwasse bantoemans tussen die skare opgemerk kon word. Ek het ook opgemerk dat baie in die skare nie in skooldrag was nie.

Die skare het het ook nou begin klippe gooi na ons. Hulle was nou so naby dat ek getref was teen my linkerbobeen. Die windskerm van my motor was ook nou stukkend gegooi. Op hierdie stadium was die skare ongeveer 50 meter van ons. Ek het besluit om nou die traanrookgranate tussen die skare te gooi. Ek het drie granate na die skare geslinger in 'n poging om die aanval af te weer en hulle uitmekaar te dryf. As gevolg van die oorverdowende lawaai het ek geen bevele gegee nie maar het gemerk dat van die ander lede ook traanrookgranate tussen die skare werp. Die traanrook het die uitwerking gehad dat die skare vir 'n oomblik gestuit het. Van die skare het van die granate opgetel en na ons teruggegooi. Die traanrook het geen noemenswaardige uitwerking op die skare gehad nie en 'n verdere aanval met klippe was nou geloods.

Ek het nou gemerk dat 'n deel van die skare aan die sykante om beweeg en derhalwe was ons van voor en die twee sykante aangeval.

Ek wil nou byvoeg na paragraaf 2 op bladsy 10. Ek is bewus en op hoogte met die toepassing van die waarskuwing soos voorgeskryf in die wet op "oproerige byeenkomste." Met dit in gedagte het ek nadat ek voor my voertuig stelling ingeneem het, albei my hande in die lug gehou en geskreeu "wait" en in bantoetaal "Khatle". Dit was onwaarskynlik dat iemand dit sou hoor en dit het geen uitwerking op die skare gehad nie. Die toepassing van die bepalings van genoemde wet, was nou vir my absoluut onmoontlik en was nie uitvoerbaar nie. Die rede hiervoor is die aanval van die kant van die skare met klippe en die oorverdowende lawaai as gevolg van die skare se geskreeu.

Aangesien die traanrook nie die gewenste uitwerking gehad het nie was nou besluit om met die honde en 'n knuppel-aanval op die skare te loods en uitmekaar te dryf. Die doel was om die skare terug te dryf en om tyd te wen vir hulp om op te daag. Terwyl die knuppel-aanval geloods was het 'n deel van die skare tussen die huise in beweeg en het aan die kante en agter ons stelling ingeneem. Die skare voor ons was wel as gevolg van die aanval teruggedryf tot voor die skool, ongeveer 75 tot 100 meter. Ek het voor die voertuig bly staan. Dit het ek gedoen om waarneming te doen sover dit die aanval vanaf die kante betref.

Die lede het na die stormloop teruggekeer na die voertuig. Ek het verneem dat een van die honde doodgeslaan was. Ek het gemerk dat die skare ook vinnig die lede volg na die voertuie en het afgelei dat die skare onder die indruk verkeer dat die polisie nou vlug. Ek het ook gemerk dat ons heeltemal omring was. Die klipaanval het nou vanaf alle rigtings gekom en het toegeneem. Dit was nou vir my duidelik dat die lede en veral die blankes se lewens in gevaar was. Die bantoe-lede het agter in die voertuie ingeklim en ager die voertuie geskerm weens die hewige aanval. Om nou nog 'n knuppel-aanval te loods was onmoontlik want niemand kon my hoor nie en ek was nie in staat om die bantoe-lede bymekaar te kry nie. Die enigste uitweg om lewe en eiendom te beskerm was om waarskuwingsskote in die lug af te vuur. Ek het eers my pistool ... 9mm Walter getrek met die hoop dat die skare nou sou skrik en die aanval staak. Dit het geen uitwerking gehad nie. Die aanval het nie afgeneem nie. As 'n drastiese optrede het ek besluit om 'n paar waarskuwingskote oor hulle koppe te vuur. Ek het toe 5 skote oor die skare se koppe geskiet. Die skare was nou ongeveer 30-40 meter van ons af. Die uitwerking was dat sommige teruggeval het en andere het net 'n oomblik gehuiwer.

Enkele oomblikke hierna, ten spyte van die skote, was die aanval weer geloods. Ten spyte van ons haglike omstandighede was ek nog nie bereid om direk op die skare te vuur en sodoende van hulle te dood of te beseer nie. Ek het nie 'n bevel gegee om te vuur nie maar daar het wel nog lede uit desperaatheid skote afgevuur. As bewys dat al die skote waarskuwingsskote was, is die feit dat geen lede van die skare geval het nie. Na die sarsie skote het die skare vir 'n oomblik gehuiwer. Kort hierna was die aanval weer voortgesit. Dit was nou vir my duidelik dat die lewens van ons almal nou op die spel was, en dat niks die skare sou stuit nie. Ek het daarop 'n Stengeweer met twee magasyne geneem en kort sarsie na die regterkant oor en voor die skare verby gevuur. Hierdie stap was geneem as 'n laaste toevlug om die lewens van die polisie onder my bevel te red. 'n Totaal van 20 rondtes was afgevuur deur my met die Stengeweer.

Alhoewel ek wetlik geregtig en gemagtig was om selfs van die skare te dood was ek ten spyte van die Stengeweer nie beried om enig van die skare te dood of te beseer nie. Die lede wie gevuur het, het dit gedoen uit desperaatheit en 'n laaste poging om 'n gewisse dood vry te spring.

Die geraas en demoraliserende uitwerking van die Sten hat die gewenste uitwerking gehad sodat die skare teruggeval het. Ek het onmiddelik bevel gegee dat die konfooi uitbeweeg na die hoofstraat.

Ekself het nooit gesien dat 'n persoon gedood of beseer was nie. Ek het later verneem dat die leier en opstoker wel gedood was en per voertuig verwyder was.

Nadat die konvooi afbeweeg het tot in Moemastraat het die voertuig van Sers. Hattingh gaan staan. Die skare het hom bestorm en ek het gehoor 'n persoon skreeu dat hulle hom aan die brand gaan steek. Ek het gemerk dat een uit die skare iets agterop die vangwa gooi.

Daar het 'n opening gekom agter die wa en die skare. Ek het daarop weer 'n sarsie met die Sten agter die patrolliewa verby geskiet met die doel om die skare te verdryf. Die skare het teruggeval en die voertuig was verwyder.

Hulp het nou opgedaag en die skare het tussen die huise verdwyn.

Ons het teruggetrek na die polisiestasie te Orlando.

Die rede waarom die skare van die rookgranate na ons teruggegooi het en in staat was om dit terug te gooi is omdat sommige van die granate nie afgegaan het nie.

[Signed: J. A. Kleingeld, Johannesburg, 29 June 1976. Witnessed: G. F. Lendes.]

Source: Johannes Augustinus Kleingeld (lieutenant colonel, South African Police, Orlando), statement, 29 June 1976, SAB K345, vol. 85, part 4.